top of page

Speel-speel leer ons

Onderwysers

Al die Juffrouens by Springbokkie is gekwalifiseerde onderwyseresse.

 

Die skoolhoof is ‘n geregistreerde lid van die Suid-Afrikaanse Onderwys-Unie (SAOU), en gee alle kommunikasie en veranderinge aan die kurrikulum deur aan die res van die onderwys personeel.Personeel word ook van tyd tot tyd gestuur om kursusse van die SAOU by te woon wat spesifiek handel oor Vroeë Kinderontwikkeling. Personeel woon ook praktiese kursusse deur die loop van die jaar by, soos Kindermusik, om seker te maak hul voorbereiding bly vars en kreatief. Sodoende word die personeel se kennis gereeld opgeknap en aangevul.

 

Elke onderwyseres word ook ondersteun in die klas deur ‘n geskoolde en ervare assistent, wat help met die administratiewe takies in die klas. Sodoende kan die onderwyseres haar aandag fokus op die ontwikkeling van elke individuele kleuter.

 
Kurrikulum

Springbokkie Kleuterskool poog om kwaliteit voorskoolse opvoeding en onderrig te verskaf. Die kurrikulum wat gevolg word in die kleuter klasse is die SAOU se handleiding vir kinders van die betrokke ouderdom, gerugsteun deur Christelike beginsels.

 

Die kurrikulum fokus op 3 hoofareas:

  • Geletterdheid, insluitende; taal-aktiwiteite en ouditiewe persepsies.

  • Gesyferdheid, insluitende; visuele persepsies, wetenskap en roetines.

  • Lewensvaardighede, insluitende; bewegings-aktwiteite, Bybel-onderrig en Musiek-aktiwiteite.

 

Die taalaktiwiteite en ouditiewe- asook sommige visuele perseptuele aktiwiteite vorm deel van ontluikende lees. Al die aktiwiteite is so saamgestel dat dit sal lei tot die bemeestering van die voorvaardighede vir lees, skryf en wiskunde.

 

Pre-primere onderwys is ‘n informele opvoedkundige aanvulling tot die ouerhuis, wat die selfstandigheid en volwassewording van die kleuter as uitkoms het.  Deur interessante afwisseling van geleenthede by die skool leer die kleuter al meer deur spel.  Die eindresultaat is ‘n liggaamlike en geestelike ontwikkelde kind, wat baie beter toegerus is vir die eise van formele onderrig.

 

Die dagprogram is ontwerp om aan die kognitiewe, geestelike, fisiese en emosionele behoeftes van die jong kind te voldoen.

 

Lesplanne

Daar word van elke onderwyseres verwag om ‘n lesplan op te stel, en hoewel sy improviseer deur die loop van die les, verseker die lesplanne, dat die onderwyseresse voorbereid is, en kinders optimaal leer.

 

Lesplanne word vooruit beplan vir elke ouderdomsgroep en die weeklikse tema is dieselfde vir die onderskeie ouderdomsgroepe. So sal die tema ‘Lente’ byvoorbeeld deur die hele skool behandel word in die betrokke week, maar op ‘n ouderdomsverwante wyse vir elke groep. Alle leerareas word geïntegreerd aangebied deur middel van die betrokke tema.

 

Die betrokke weeklikse tema word ook vir ouers in die jaarlikse kalender gepubliseer, sodat ouers bewus kan wees wat die betrokke tema vir elke week is. Ons moedig ouers graag aan om met hul kleuter te gesels oor die tema van die week, en te vra wat hulle geleer het die betrokke dag.

 

In die ouer klassies poog ons om weekliks 2 beweging-, 2 musiek, 1 wetenskap of gesyferdheid, en ‘n persepsieles aan te bied, en dan natuurlik die deurlopende kuns aktiwiteite. Die aantal lessies word verminder vir die 2- tot 3-jariges.

 

Babas en peuters volg hul eie program.  Die program is uitgewerk deur Dr. Jacky Burger, babakenner en skrywer van vele boeke. Sy konsulteer ook op gereelde basis by ons skool, om te verseker dat die baba- en peuter Juffrouens bybly met die nuutste vaardighede.

 

Geletterdheid en gesyferdheid word deurentyd geintegreer in die dagprogram, maar daar word ook spesifieke lesse uitgewerk om aandag aan die areas te gee.

 

Storietyd is ‘n Geletterdheidsperiode. Die onderwyseres moet ten minste 2 keer ‘n week van ‘n hulpmiddel (iets anders as slegs ‘n boek) gebruik maak om die storie te vertel, soos byvoorbeeld met handpoppe of ‘n viltbord.

 

Die onderwyseres moet ook sorg dat elke les ‘n leeruitkoms (wat die kleuter moet bereik/leer deur die les) en ‘n asseseringstandaard het. Die assessering is dan natuurlik die manier hoe die onderwyseres seker maak dat die leeruitkoms wel bereik is. Dit kan byvoorbeeld gedoen word deur vragies te vra, of die kleuters te vra om te teken wat hulle geleer het.

 

Assessering

Ons doen deurlopende assessering wat beteken die kleuter word regdeur die jaar geassesseer.  Kwartaalliks word daar verslae/rapporte uitgedeel en tydens die tyd word daar meer in-diepte geassesseer. Kleuters word egter daagliks informeel geassesseer.

 

Ouers kan dus die gemoedsrus hê dat die klasjuffrou hul dadelik sal laat weet as sy voel daar enige probleme is wat aangespreek moet word.

Ons moedig ook ouers aan om enige tyd met die klasjuffrou of die skoolhoof te gesels, indien daar enige bekommernisse is.

 

 
bottom of page